Afrikaanse boeke nou beskikbaar in Christchurch om uit te neem

Op 25 Junie 2005 is 'n spesiale geleentheid in Christchurch gevier.

Afrikaans het die 13e taal geword in die hoofbiblioteek se Tale van die Wereld afdeling. Nou het die Tuinstad se Afrikaanse lesers toegang tot boeke in hul moedertaal. Vir my persoonlik was dit 'n lank gekoesterde droom wat waar geword het. Dit sou 'n onvervulde droom bly as julle nie terugvoer oor die biblioteekprojek gegee het nie. Groot dankie vir julle!

Vir my - en ek glo vir al die ander Afrikaanssprekendes ook - was dit 'n emosionele oomblik om die nuwe versameling te kon ervaar. Die boeke is gekies in ooreenstemming met terugvoer van die gemeenskap oor wat hulle in so versameling sou wou sien.

Daar is veral gevra vir kinderboeke, fiksie, literere werke en Afrikaanse resepte - wat vir ons gegee is. Boonop is alles spiksplinternuut. Die boeke het alreeds baie vreugde verskaf en gaan nog baie genot gee - soos daar van al die "oe's en "aah's afgelei kon word.

As jy na die biblioteekkatolgus wil kyk, doen die volgende:

1. Besoek http://christchurchcitylibraries.com/

2. Klik bo aan die webblad op ‘catalogue'

3. 'n Nuwe bladsy sal laai

3. As ‘Central' vertoon, klik op ‘Just Enter'. (‘Tale van die Wêreld' word in die ‘Central'-tak geberg)

4. Die katalogusbladsy sal laai

5. Kies ‘By Language' as ‘Afrikaans'

6. Tik in ‘Afrikaans', 'Afrikaans fiction', 'Afrikaans nonfiction', of 'childrens stories Afrikaans'

7. Klik op die ‘Subject' knoppie

Sommige boeke se titels is welbekend en ander skrywers is baie geliefd en ander lyk na opwindende leesgenot.

'n Paar lusmakers:
Die versameling spog met fiksie van outeurs soos Alba Bouwer (Rivierplaas), Annelie Botes , Andre Brink, Sarah Du Pisanie, Jeanne Goossen, Ena Murray, Elsa Joubert, Maretha Maartens, Dalene Matthee, Marzanne Leroux-Van der Boon, Karel Schoeman

Digbundels soos deur Elizabeth Eybers, Antjie Krog, Tydskrif (met gedigte in waarmee ons grootgeword het),

Resepteboeke soos Mariette Crafford se nuwe Sonskynkaffee, Christelle Erasmus se Gesinskos, Top 500 Wenresepte soos saamgestel deur Carmen Niehaus, Magdaleen van Wyk se Tradisionele Suid-Afrikaanse Kookkuns

Boeke met 'n Christelike strekking deur skrywers soos Maretha Maartens, Stephan Joubert , Nina Smit, Angus Buchan

Vir kinders is daar Waar is Weg, ABC vir Aspattte, Die Volledige Sprokies van Grimm soos vertaal deur Marita van der Vyver, Louise Smit se Haasdas, mooi klank CD's

En nog baie meer....

In die lokaal is daar is ook 'n voorstelboksie waarin mens kan terugvoer gee. Biblioteke gedy op terugvoer - as jy die terugvoerboksie wil gebruik om 'n briefie te pos om dankie te se vir die versameling, doen so - die biblioteekbestuur weet dan dat hulle op die regte spoor is. Of as jy 'n spesiale versoek het van iets wat dalk 'n aanwins kan wees - gee dit gerus deur.

Dit is nie 'n groot versameling nie maar die potensiaal is daar dat dit redelik vinnig kan uitbrei. As jy graag 'n spesifieke boek wil he en nie verniet wil ingaan stad toe nie - bespreek dan liewer die boek sodat hulle dit vir jou kan aanstuur na jou plaaslike tak.

Terug by gister se funksie:

Carolyn Robertson - Die Biblioteekbestuurder het 'n toespraak gemaak en verduidelik dat die versoek vier jaar gelede om 'n Afrikaanse versameling te he, aanvanklik van die hand gewys is omdat daar te min Afrikaans mense was wat so versameling kon benut. Om 'n buitelandse versameling op die been te bring, kos baie geld en tyd vir die Stadsraad (en ons "rate-payers") en kan nie ligtelik geneem word nie. Die besluit is egter in herwoorweging geneem nadat die biblioteek gesien het die Afrikaanse getalle groei en dat die terugvoer wat hulle van Afrikaanse mense gekry het, die rede was waarom hulle die besluit laasjaar goedgekeur het.

Ons se dus dankie vir julle wat gevra het daarvoor - want dit is julle motiverings wat die ding gedoen het. Ek deel 'n paar met julle:

N het gese: Because we have a rich culture heritage and really good literature

'n Ma skryf: Afrikaans is my first language and I would very much like to raise my child to be able to speak and understand Afrikaans. Nog 'n ouer skryf: It is of extreme importance to us that our son grows up bilingual. And we find it hard to expand his Afrikaans vocabularly by just having conversations and would love to have some reading material for him to assist us. Research has shown a child growing up speaking two different languages, develops a diffirent part of his brain. And that is important as well.

Carolyn het een van die terugvoere gelees wat hulle hartsnare geraak het en waarmee sy haar toespraak afgesluit het - en ek haal aan wat C, een van ons respondente geskryf het:

"Growing up in SA and moving to another country, leaving your culture and heritage behind, is extremely difficult. The problem is, besides getting use to new customs and ways of your new country, NOTHING IS FAMILIAR. This makes the transition process even more difficult, traumatic and stressful. To be able to have Afrikaans books, to read in your own mother tongue, for the children as well, give a sense of security and a feeling of belong. If I can collect an Afrikaans book from the local library, I know the immigration transition will be complete - then I will feel that now I am 'home'."

Daarna was Jaco Swart (my man en die ander helfte van Afrikaans in Christchurch) aan die beurt het het hy dankie gese aan die baie mense betrokke by hierdie biblioteekprojek - veral die mense verbonde aan die Biblioteek wat uit hul pad gegaan het vir ons en omtrent 200 nuwe boeke aangekoop volgens 'n profiel wat van die terugvoerders ontvang is.

Dit was ook sy voorreg om die boodskap van die Afrikaanse Klub te kon voorlees - van die inligting is op ons webblad afrikaansinchristchurch.org.nz beskikbaar. Die Klub het reeds 50 nuwe boeke, hoofsaaklik van Lapa Uitgewers, aan die versameling geskenk om die biblioteekversameling mee aan te vul. Die verassing was baie groot toe die Die Afrikaanse Klub van Nieu Zeeland - wat alhoewel in Auckland gebasseer - sy toewyding aan 'n nasionale fokus op Afrikaans geldelik gedemonstreer het. Die Klub het 'n skenking van $2,000 aan die Christchurch Sentrale Biblioteek beloof, om nuwe Afrikaanse boeke mee aan te koop. Die Afrikaanse Klub het gese dat hulle graag wil he dat dit nie vir die Biblioteek net moet voel dat ons Afrikaanssprekendes vra vir "handouts" nie en dat ons ons self ook wil bele in ons ons kultuurerfenis.

Afrikaanse Klub, duisend dankies vir jul hulp met raad en daad met hierdie saak vandat hierdie saak net 'n gedagte was. Dit was immers na ons 'n paar jaar gelede gesien het dat die Browns Bay biblioteek Afrikaanse boeke gekry het dat ons die plaaslike biblioteek hier gevra het of hulle dit nie vir ons Afrikaanse gemeenskap ook kon doen nie. Baie dankie vir al die proeflees van ons versoekskrifte, die help adverteer van die peilings wat ons deur julle Brokkies nuusbriewe gedoen het, die donasie van boeke en die rojale geldelike donasie. Julle belegging in die kultuurbelang van die Afrikaanssprekendes in Christchurch word opreg waardeer.

Na die toesprake klaar was, was dit tyd vir aksie.

Die nuwe Afrikaanse boekrak was netjies toegebind met 'n rooi lint - en daar kry die uwe 'n sker om die versameling te open (en die lint te knip). Ek moet bieg - dit was 'n heerlike gevoel.

Daar was heerlike tradisionele soetgoed - koeksisters en melktert - vir die okkasie gemaak en na die praterye verby was, is die teetrollie ingewiel en kon ons boeretroos en heerlike verversings kry. Intussen is daar heerlik geklets, gekuier en boeke bewonder en uitgesoek.

Dit was 'n pragtige geleentheid met die Stadsraad se mediaspan wat ook teenwoordig was.

Onthou, biblioteeklidmaatskap vir Christchurch City Libraries is gratis vir mense wat in Christchurch woonagtig is maar mense wat buite die grense van die stad woon, is ook baie welkom om die versameling te gebruik teen 'n nominale fooi. Of kom bring 'n oggend of 'n middag in die biblioteek deur. Interessant, daar word 'n aantekening gemaak selfs van boeke wat in die lokaal hanteer en gelees word en deur personeel teruggesit word.

Baie dankie aan elke persoon wat Woensdag in gees of persoon daar was. Die Afrikaanse Klub was teenwoordig met die treffende toespraak wat Philip Langenhoven geskryf het, en Jaco kon voorlees. Daar het behoorlik 'n gonsing deur die gehoor gegaan met die aankondiging dat Die Afrikaanse Klub 'n skenking aan die biblioteek maak.

Dit was baie lekker om Rosanne Hawarden van SINZASA (South Island of New Zealand Association of Southern Africans) daar te he. SINZASA het ook baie gedoen om die idee van 'n Afrikaanse boekversameling te bemark deur op hul webblad en in die Indaba daaraan blootstelling te gee. Ons het baie waardevolle terugvoer van SINZASA lede gekry deur behoeftebepalings. Soos Rosanne self se, "by offering this service Christchurch City Libraries acknowledges the growth of our South-African community in Canterbury". Baie dankie vir alles wat jy gedoen het Rosanne.

Onthou egter dat 'n onbenutte versameling gesluit kan word. Vertel jou Afrikaanse vriende, asook nuwe aankomelinge hiervan sodat mense bewus is daarvan. Baie dankie vir almal wat die vorige boodskappe versprei het - dit is soms die enigste manier wat mense van geleenthede hoor.

Nou moet ons - ek en jy - die boeke geniet en gebruik. As daar 'n boek is wat in die katalogus is en wat jy graag wil uitneem, bespreek hom as jy van ver kom om te verseker dat jy nie onnodig kom nie. Maar bygese, met sulke mooi boeke beskikbaar is die kans nie groot dat jy met lee hande sal uitstap nie as jy net kom rondsnuffel.

Voor ek afsluit - Hannetjie Scholtz en Rosa Thalwitzer - baie dankie vir die lekker eetgoed wat julle gemaak het vir die biblioteekbekendstelling.

Mooi bly en lekker lees

Marietjie