Idees om jou kinders goedkoop by die huis besig te hou

Soms wonder ma's hoe om hul kinders (goedkoop) besig te hou by die huis.

Baie van die wenke het ons by die New Zealand Playcentre Federation gekry en die wenke is getoets en probeer.

Kinders se werk is om te speel en die idee van hierdie wenke is dat dit pret vir die ouers en die kinders saam moet wees. Maak tyd om met jou kinders te speel - dis lekker en die moeite werd want dit bou ‘n stewige band tussen julle.

Gaan stap

Gaan vir ‘n wandeling. Jy sal by jou plaaslike besoekersinligting meer kan uitvind oor wandelroetes in jou omgewing of vind uit by die webwerf www.doc.govt.nz oor wandelpaaie wat deur die "Department of Conservation" geadministreer word. Dis lekker om die natuurskoon van NZ so te geniet.

Speelparke

Neem hulle na ‘n speelparkie. In Christchurch is daar ‘n parkie binne 10 minute stapafstand van enige huis.

Sit musiek op en doen die aksies van 'n aksie-liedjie. Dans met serpe of seepbelle op die maat van sagte musiek

Teken

Hou genoeg papier, kryt, veltpenne, "glitter", gom, tou, watte, en ander kunsmateriaal byderhand. Papierborde is heerlik om om te tower in baie goeters - soos maskers, diertjies ens.

Laat die kinders toe om te verf. As die morsvlakke baie hoog gaan wees, kan mens hulle buite op 'n plastiektafeltjie wat sommer afgespuit kan word, laat werk. Alhoewel, meeste vingerverf is in elk geval wasbaar - so moenie te veel wroeg oor die morsery nie - geniet dit net. Die houers waarin eiers verkoop word, maak ‘n wonderlike palet om blertsies verf in te sit. Of as hulle binne gaan werk, bedek net die area met koerantpapier en dit is kinderspeletjies om skoon te maak.

Bak

Bak saam met hulle iets - dit is vet pret - en hou na die tyd 'n teepartytjie of piekniek om dit wat gebak is, te geniet. Of julle kan dit na ‘n ouetehuis neem en dit met die oumensies deel.

Moenie bokse weggooi nie - veral groot bokse waarin huishoudelike toerusting in verkoop is - dit kan in 'n ommesientjie in 'n huis, boot , motor, vliegtuig of ruimtetuig omskep word.

Meeste kinders wat ons ken, is mal oor sandputte en kan ure daarin spandeer. Vir die lekker kan julle 'n vulkaan bou binne so 'n sandput - al wat mens nodig het is iets soos 'n joghurthouertjie met 'n koeksoda-berg, kleur dit met bietjie voedselkleursel of poeierverf en giet stadig asyn oor en sien hoe die lawa vloei!

Lees vir hulle stories

As jy wil, kan julle snaakse hoedens opsit of selfs geprakseerde kostuums aantrek om by die storie te pas.

Seepbelle

Min dinge is so lekker soos seepbelle blaas. Mens hoef dit nie net te koop nie - jy kan jou eie by die huis ook maak

9 eetlepels opwasmiddel
1 eetlepel gliserien
Los vir ten minste 3 dae voor dit gebruik word
Gooi in ‘n bakkie en blaas deur seepbelblasers

‘n Reuse seepbelblaser word gemaak met ‘n roomysbakdeksel waaruit ‘n groot sirkel gesny is. Of buig ‘n seepbelblaser uit draad.

Speeldeeg

Speeldeeg (playdough) wat mens op die stoof maak
250 ml (1 k) meel
15 ml (1 eetlepel) kookolie
250 ml (1 k) water
125 ml (1/2 k) sout
10 ml (2 t) kremetart
voedselkleursel

Plaas al die bestanddele in 'n groot kastrol en kook oor 'n medium hitte. Roer aanhoudend tot die mengsel 'n bal vorm. Knie goed. Hou in 'n plastieksak in die yskas of in 'n plastiek roomyshouer by kamertemperatuur. (Dis makliker om met die deeg te speel as dit kamertemperatuur is.)

Rol uit, druk uit, vorm klei met hande, maak dolossies - doen als wat lekker is daarmee.

Ongekookte deeg kan op dieselfde manier gemaak word maar met kookwater gemeng by die droe bestanddele en dan goed geknie word.

Opsioneel:
Voeg "glitter" of geurige olies by die deeg. Ons het 'n keer laventelolie bygevoeg, dit ligpers gekleur en voila - laventelspeeldeeg. As jy laventelblare het, kan dit ook in vir ekstra tekstuur.

Ghloep

Ons is mal oor ghloep. Ons maak dit in 'n plat houer met randte.

250 ml mielieblom (glutenvrye mielieblom soos Edmonds) en
90 ml water

Meng mielieblom met water. Moenie ekstra water byvoeg nie - dit behoort dik te wees. Sit in skinkbord of bak. Dis heerlik om mee te speel en die mengsel raak meer hanteerbaar hoe langer jy daarmee besig is.

Die resep in ons boekie gee groter hoeveelhede aan, naamlik 6 koppies mielieblom en 2 koppies water, maar omdat ons 'n klein skinkbord gebruik en ons gewoonlik net 2 is wat op 'n slag daarmee speel, is ons verkleinde resep perfek vir ons.

Slym

Maak slym aan in 'n emmer, waarin hulle hul handjies kan druk en speel of daarin klits met 'n eierklitser

1 k seepvlokkies (In NZ koop mens Lux seepvlokkies wat 'n suiwer seep is - ons vermoed in Suid-Afrika sal Sunlight seepvlokkies dalk dieselfde kan doen)

Sit in emmer en maak dit halfvol met warm water. Los oornag. Voeg die volgende dag 'n bietjie warm water by indien nodig om te verdun.

Dalk die beste om hulle op ‘n wasbare vloeropervlak hiermee te laat speel (soos in die kombuis of dalk buite op ‘n stoep)

Vier die seisoene

Lentetyd, is 'n tyd van groei - plant 'n plantjie of 'n selfs net 'n boontjie in 'n fles om te sien hoe dit groei.

Somer is pret - laat die kinders boomklim en laat hulle toe om met water te speel - of dit nou 'n tuinslang of watersproeier is wat hulle natspuit, of 'n swembad - hulle sal dit geniet.

Of neem hulle vir ‘n buitelugpiekniek. Dalk kan julle ‘n takkie-resies hou - elke deelnemer gooi ‘n takkie of ‘n blaartjie in die water aan een kant van ‘n brug en dan kan julle resies hou en kyk watter takkie of blaartjie eerste die "wenstreep" haal.

Gaan bou sandkastele op die strand - in NZ is jy nooit regtig baie ver van die kus af nie.

Herfs is 'n heerlike tyd om in die herfsblare te baljaar (veral na hulle in 'n hoop gehark is). Of gooi die blare in
die lug op sodat dit op hulle val. Of maak herfsblare bymekaar om collages mee te maak of om dit onder 'n papier te sit en dan met 'n potlood of stuk kryt daaroor te krap om die vorm van die blaar te sien uitkom.

Benut die wind en gaan vlieg ‘n vlieer. Vlieers kan gekoop word of eenvoudige vlieers kan sommer met supermarksakke of ‘n kardoes gemaak word.

In die winter kan mens uitkamp binne die sitkamer - gooi 'n laken oor twee of meer stoele en voila - jy het 'n tent om in te speel.

Of hou 'n binneshuise piekniek.... Of bak vir hulle pannekoek

Skattejag

Hou 'n skattejag - binne of buite. Of dit nou paaseiers is wat weggesteek word en of dit klein pryse is wat op plekke weggesteek word - dit bly 'n treffer. Met ons laaste paaseierjag het die grootmense eiers weggesteek wat die kinders moes kry en toe het die kinders weer die eiers weggesteek wat die grootmense moes kry. OF wat van 'n skattejag-kaart of ander leidrade

Badtyd

Min dinge is so lekker vir kleingoed as 'n borrelbad vol skuim en dit maak hulle skoon en hou hulle besig.

Of maak vir hulle skeerroom om in die bad mee te speel en op die teels te verf
1 k Lux suiwer seepvlokkies koue water
1 k kookwater

Bedek die vlokkies met koue water en laat staan vir 10 -1 5 minute. Giet die koppie kookwater bo-oor. Klits met 'n eierklitser tot styf. Speel met dit asof dit vingerverf is - maar keer dat die kleingoed dit in hul ogies laat kom want dit brand.

Om so saam te speel help julle mooi herinneringe saam opbou. Geniet dit.... Hulle word so vinnig groot.