Aksie-rympies (Rymspel)

Raakliedjie

uit DJ Opperman se Kleuterverseboek

Kyk uit!
Ruikuit!
Hap-hap-hap!
Kennebak!
Gorrelgat!
Okkerbeutjiesak!

Gesiggiespel

uit DJ Opperman se Kleuterverseboek

Gorrelpypie!
Kennewippie!
Mondefluitjie!
Neusepypie!
Rooi, rooi wangetjies!
Diep, diep klofie!
Waterogies!
Sjoeps, voor die hofie!

Aksierympie

-Rika Nel, uit DJ Opperman se Kleuterverseboek

Met my hande klap, klap, klap,
met my voete stap, stap, stap.
Ek kan my kniee knik, knik,
met my vingers tik, tik.
Altwee arms lig ek op,
daarmee raak ek aan my kop,
met my mond tel ek tot tien,
met my oe kan ek sien,
alles om my kan ek hoor,
want ek luister met my oor!
My speelgoed sal ek sommer los,
want my neusie ruik die kos!

Huisrympie - 'n Vingerrympie vir al tien

Anna du Raan, uit DJ Opperman se Kleuterverseboek

Hierdie outjie vee die huis uit,
hierdie outjie was die ruit.
Hierdie ene was die skottelgoed,
hierdie ene skuur die messegoed.
Hierdie outjie skink die tee,
en almal drink dti met hom mee.

Hierdie ene stof die rak,
hierdie ene help om reg te pak.
Hierdie outjie help vir Ma,
hierdie outjie help vir Pa.
Hierdie een help kos opdra -
al die werk is klaar - hoera!

Weet jy van die huisie
in my kleine vuisie?
Hier woon die pappa.
hier is die mamma.
Hier is ousus - en haar boet,
en die baba - stroop-stroopsoet.

Vingerspel 1

Druk op elke vinger van die kleinding se hand,volgens die rympie - en kielie met die laaste reeltjie :-)

Hierdie varkie gaan mark toe,
hierdie varkie bly tuis,
hierdie varkie eet 'n bord vol vleis,
hierdie varkie kry niks nie,
en hierdie varkie skreeu: "Wee-wee-wee,
ek kan my mamma nie kry nie."

Vingerspel 2

Pinkie,
Goue ringetjie,
Lange lier,
Potteskraper.
Ketellapper, Kielie kielie Winkelier!

Vingerspel 3

Duimpie,
Duimpie se maat
Langeraat,
Fielafooi,
Vang-'n-Vlooi

Vingerspel 4

Duimpie het in die water geval,
Duimpie se maat het hom uitgehaal.
Langeraat het hom huis toe gedra,
Fielafooi het hom neergelê
en Pinkie het vir Ma gaan sê.

Vingerspel 5

Dit is my pappie (duim omhoog)
dit is my mammie (wysvinger)
dit is my ouboet Braam (middelvinger)
Dit is my sussie (ringvinger)
dit is ons baba (pinkie)
en ons woon almal saam (vou vingers saam)

Tien soldaatjies

Hou die tien vingertjies op en vou hulle op soos die sodaatjies minder word)

Tien soldaatjies vier 'n sege -
een val neer, toe bly daar nege.
Nege soldaatjies loop heeldag -
een word moeg, toe is daar agt.
Agt soldaatjies vol lus en lewe -
een verdwaal, toe bly daar sewe.
Sewe soldaatjies stap reg wes -
maar een gaan oos, toe bly daar ses.
Ses soldaatjies staan stokstyf -
een word flou, toe is daar vyf.
Vyf soldaatjies drink hul bier -
een word vaak, toe bly daar vier.
Vier soldaatjies lig die knie -
een gaan huis toe, en nou is daar drie.
Drie soldaatjies loop by die see -
een gaan swem, en toe is daar twee.
Twee soldaatjies stap in die reen -
een soek skuiling, en toe bly daar een.
Een soldaatjie het gekul -
Hy het sommer gaan sit, en toe was daar nul

Kniespel

Hop, hop, hop! Hop perdjie hop!
Oor die klippe, oor die slote,
trap versigtig met jou pote
Hop perdjie hop!

Kieliespel 1

Hier kom 'n muis,
hy bou 'n huis (vat aan ken)
Hier kom 'n muggie,
hy bou 'n bruggie (vat aan neus)
Hier kom 'n vlooi,
hy spring in die kooi (kielie kleinding)

Kieliespel 2

Dinker (raak aan voorkop)
blinker (regteroog)
traneskinker (linkeroog)
suiker (regteroor)
ruiker (neus)
kussingduiker (linkeroor)
kuller (bolip)
smuller (onderlip)
harde bruller (tong)
kinneke-kennetjie-tien (kielie kleinding onder ken)

Koekies bak

Handjies klap, koekies bak
Handjies klap, koekies bak,
bring die meel,
nie te veel,
klits die eiers gou-gou-gou, (vryf die handjies vinnig teen mekaar)
lekker eet ons nou-nou-nou. (gooi die handjies in die lug)

Pannekoek bak

Allawiek! Allawak!
Ons gaan pannekoek bak
met suiker en melk en eiers
met regtige eiers en regtige melk,
met 'n lepeltjie suiker en botter vir elk.
Allawiek, Allawak!
Ons gaan pannekoek bak!

Trein ry 1

Tjoeke-tjoeke-tjoek! (vryf handpalms teenmekaar)
Hier ry die trein (plaas gebalde vuisies langs mekaar)
bult op tjoek-tjoek (strek arms op)
oor die berg tjoek-tjoek (staan op tone en rek)
bult af tjoek-tjoek (laat hande sak)

Trein ry 2

Sakke, pakke
sout en peper;
gee my stoom
dan loop ek beter

Spinliedjie

Opgemaak deur Mia (5 jaar oud) terwyl sy al in die ronde gedraai het

Draai, draai, draai
Spin, spin, spin
Val val val!