Kinderpret
Sannatjie
'n Vlegseltjie agter, 'n vlegseltjie voor -
'n Mens kan tog so lekker met Sannatjie skoor!
'n Vlegseltjie voor, 'n vlegseltjie agter -
Trek los die ou lintjie, die vlegsels word sagter!
O goeie, maar nou het jy seker verbrou,
Want waarom is Sannatjie boos dan vir jou"?
G'n vlegseltjie agter, g'n vlegseltjie voor -
Maar, o alle tyd, jy moet Sannatjie hoor!
Wipplank ry
Onder in die tuin
Het Pa 'n wip gemaak.
Ons ry so op en af -
Eers grond, dan takke raak.
Maar Boet wou hoer gaan
En ek was glad te dom,
Te hoog laat ek hom wip -
hy het nou nog nie afgekom!
As Pappie kom
Ek steek my altyd weg
as Pappie huis toe kom.
Agter die donker deur
Wag daar 'n soen vir hom!
Saggies kom hy nader,
sy hoed wil hy daar hang,
Maar voor hy weet, het ek hom
al om sy nek gevang!
Breiwerk
"Ouboet", se Ouma, "moet 'n nuwe trui kry",
ek sal dit vir Kersfees vir hom brei.
Maar sy wou net begin, toe val die wol
en voor sy kon keer, het dit ver weggerol.
Maar o liewe, toe was die gort gaar,
want Strepies, my kat, het die bol gewaar!
Strepies, jou vabond, jy loer nou vir my,
jy het jouself in die wol vasgebrei.
Kaalvoetjies
Ek loop so graag met voetjies kaal -
Kaal voetjies in die sand,
Ek speel so graag met water,
Met water buitekant.
Maar mammie roep my binne -
sy se ek mors te veel!
Ek wonder tog of iemand
ooit sonder mors kan speel!
Trapsuutjies
Toe nou, Boetman, gou maak nou,
almal wag net vir jou.
Kam jou kuif, maak toe jou kas -
is jou hande al gewas?
Van die oggend tot die aand,
Elke week, elke maand,
moet ek gou maak, oor en oor,
"Gou maak" is al wat ek hoor!