Diertjies

Die verkluimde akkedis

Net hier voor my op die grond
Het ek die liefste ding gekry-
Stertjie rooi, en verder bont
En nie die minste bang vir my!

Kyk,ek neem hom in my hand.
Foeitog ,kleinding,wat is jy?
Hier-jy,haai! Jou klein kalant!
Kyk nou hoe laat skrik jy my!

My Skilpad

Dit is my skilpad (maak vuis met duim vorentoe)
hy woon in sy dop (steek duim in vuis weg)
Wanneer hy kos kry, dan loer hy daaruit (uit met duim)
Maar dis nie lank nie, of in is sy kop. (in met duim)

Trippe Trappe Trone

Trippe, trappe, trone
varkies in die bone,
koeitjies in die klawer,
perdjies in die hawer,
gansies in die groene gras
eendjies op die waterplas,
Ek wens dat kindjie groter was
om al die diertjies op te pas.

Die honger hasie

Ek sien 'n honger hasie (steek twee vingers soos hasie-ore in die lug)
en 'n groen koppie kool. (bal die ander hand in 'n vuis)
Toe begin die ander hasie
lekker knabbel aan die kool. (regterhand knabbel aan linkervuis)
Maar nou hoor die hasie iemand ("spits" twee hasie oor vingers)
en hy sien 'n boer kom aan.
Toe se daai hasie haastig:
Ek sal liewer huis toe gaan (hand huppel weg)

Die wind die waai

Die wind die waai,
Die haan die kraai,
die bok staan op sy tone
en steel die boer se bone.
Die boer kom met 'n kweperlat
en slaan hom op sy linkerblad.

Wielie, wielie, walie

Wielie-wielie-walie,
die aap sit op die balie.
Tjoef-tjaf val hy af;
tjoef-tjof
klim hy op!
Wielie-wielie-walie.

Apie

Daar is 'n apie op 'n stokkie
voor my ma se agterdeur,
daar's 'n gaatjie in sy broekie
en sy stertjie loer daardeur

Kat en Muis

'n Kat se eendag vir 'n muis:
"Ek voel tog so alleen,
kom speel hier met my in die huis,
dan gee ek jou 'n been!"

"Nee dankie," se die slimme muis,

"Ek bly maar weg van jou -
by katte voel ek glad nie tuis,
hulle wil my beentjies kou"