Hoe skakel jong gesinne in die Kiwigemeenskap in?

As mens 'n voorskoolse kind het, is dit makliker om 'n nuwe lewe in Nieu-Seeland te begin.

Hier is so baie lekker goed om te doen, dikwels teen nominale fooie, en daar is heelwat geleenthede vir mens se hele gesin om lewenslange vriendskappe met jou kinders se maatjies en hul gesinne te sluit.

Sosiale aktiwiteite is belangrik in die NZ samelewing, en wanneer is 'n beter tyd om kinders se sosiale vaardighede te ontwikkel, as voor hulle skool toe gaan?

Playcentre

Playcentre is 'n unieke Nieu-Seelandse instelling, wat ouers as die primere opvoeders van hul kinders ondersteun.

Kinders onder 6 word in 'n interessante speel-omgewing, met baie dinge om te doen, aangemoedig om self te kies waarmee en hoe hulle wil speel. Ouers is nou betrokke om die plek aan die gang te hou en die spel te fasiliteer.

Playcentre is werklik 'n wonderlike geleentheid waar mens eerstehandse Kiwi-ervaring opdoen en baie gawe mense ontmoet.

Ons wat in 'n stad soos Christchurch woon waar daar baie keuse van skole is, het ervaar dat kinders baie gelukkig is by die Playcentre op 'n jonger ouderdom. Wanneer van die maats na kindies gaan besluit mens maar of jy ook die stroom gaan volg en of jy eerder gaan vasbyt en by die Playcentre gaan bly tot hulle skoolryp is.

Om te sien waar die naaste Playcentre is, besoek hul webwerf: www.playcentre.org.nz/playcentres.php

Mainly Music

Daar is min dinge wat kleingoed en hul grootmense so geniet as musiek, dans, ritme en rymspele. Mainly Music word deur baie kerke as gemeenskapsuitreik-aksies aangebied. Na die danssessie is daar gewoonlik speeltyd vir die kleingoed en 'n koppie tee en geselsie vir die ouers.

Hier ontmoet mens gawe vriende wat in jou omgewing woon. Om die Mainly Music in jou omgewing op te spoor, besoek gerus die Mainly Music webwerf.

http://mainlymusic.org.nz/groups/localgroups/canterbury/tabid/74/Default.aspx

Kindergartens en Pre-Schools

Laerskole en kindergartens is dikwels langs mekaar geleë. In die "kindy" is daar gewoonlik een onderwyser vir ongeveer 15 kinders. Ouers se hulp word dikwels verwelkom - gawe geleentheid om in te skakel - maar ouerbetrokkenheid is nie so groot soos by die Playcentre nie.

Omdat pre-schools meer onderwysers per kind het as kindergartens, is die fooie hoër.
Meeste pre-schools aanvaar kinders wat nie meer 'n doek nodig het nie. Hier laai mens jou kind af en die skool hanteer meeste van die kinders se opvoedingsbehoeftes, maar meeste voorskole waardeer ouers se deelname baie. Daar is dus ook geleentheid om in te skakel en oulike vriende te maak.

Party pre-schools het 'n spesiale fokus pre-schools, soos byvoorbeeld Cornerstone Christian Early Learning Centre. Cornerstone doen wonderlike werk en is ideaal as mens jou kinders as Christene grootmaak.

Montessori skole en Kindercare is ook goeie opsies.

Biblioteke

Christchurch se biblioteeke bied 'n groot verskeidenheid dienste, soos storie-ure, musiek en bewegingsessies vir voorskolers, en dan is daar ook "Babytimes" vir kleingoed onder twee.

Loer gerus na Christchurch City Libraries se webwerf: http://library.christchurch.org.nz/Events/Preschool/

Skole

Mens kry staatskole, staat-geïntegreerde ("state integrated") skole wat 'n spesiale identiteit het (byvoorbeeld Christenskole), en ook privaatskole.

Privaatskole is baie duur maar bied baie goeie onderrig. Staat-geïntegreerde skole is nie so duur nie omdat hulle gedeeltelik deur die staat gesubsidieer word.

Staatskole is nie duur nie - baiekeer amper gratis. Heelwat staatskole het sones en mense koop soms 'n huis in die sone van die skool waarheen hulle hul kinders wil stuur. Van die gewilder skole beïnvloed die prys van huise. As jou kinders 'n privaatskool of staats-geintegreerde bywoon is sones nie van toepassing nie.

Dit is sinvol om die skole waarin jy belangstel te besoek om die vibe te kry en dalk ook hul prospectus aanvra.

Besoek die volgende webwerwe oor Onderrrig:

www.minedu.govt.nz (New Zealand Ministry of Education)
tki.org.nz/e (Te Kete Ipurangi: The Online Learning Centre)
www.ero.govt.nz (Education Review Office)

Die Education Review Office webwerf het ERO verslae (volledige verslae van skole). Kyk ook na die "decile rating" van skole. 'n Skool met 'n hoë decile rating ontvang minder staatsubsidie (dikwels is dit 'n aanduiding dat dit kinders se ouers se inkomstes hoog is en dat daar nie baie spesiale gevalle is waar die staat ekstra moet betaal vir kinders nie).

Skole met 'n lae decile rating (1 of 2) ondervind soms sosiale probleme, en die kinders kan bietjie rof wees. Aan die ander kant is 'n decile rating van 10 dalk ook nie ideaal nie, want jou kind se klasmaats is dan baie welaf, en dit kan dalk vir jou kind moeilik wees.

Kinders tel Engels oor die algemeen baie vinnig op. Waar nodig bied skole ekstra "learning support" aan vir kinders wat 'n ander huistaal as Kiwi het.

Gooi jou gewig in by jou kind se skool! Die skole sal dikwels skoonmaak sessies, sausage sizzles of pouse-toesigsessies hê waar mens kan meedoen. Dit maak jou kind se dag as hy jou daar sien.