Nuwe tuiste vir hierdie webwerf

Afrikaans in Christchurch het 'n nuwe tuiste gevind. Hierdie webwerf was tot so drie dae gelede op Aquinin.com gehuisves, maar ons het dit nou na Swart.co.nz toe geskuif.

Instandhouding gaan nou heelwat makliker wees, want die nuwe webwerf loop nou op Drupal.

Drupal is 'n "Content Management System" (Inhoudbestuurs-stelsel?) wat die taak om inhoud by te voeg en in stand te hou vereenvoudig. Mens kan vanaf enige rekenaar wat aan die Internet gekoppel is op die stelsel inteken, wat handig is, maar daar is nog voordele.

'n Drupal-website is in verskillende lae opgedeel: struktuur, inhoud, en aanbieding. Ek gaan nou nie in hierdie inskrywing in die tegniese besonderhede ingaan nie. As webontwerp jou soort ding is, kan jy meer daaroor lees in my artikel (in Engels geskryf) genaamd "Separating structure, content and presentation: the benefits of layers".

'n Derde voordeel van Drupal is dat dit maklik is om die stelsel uit te brei met behulp van modules. Hierdie blog is 'n goeie voorbeeld. Omdat Drupal 'n blog-module het, is dit nie vir my nodig om addisionele sagteware, soos byvoorbeeld WordPress, te gebruik vir die blog nie. WordPress is baie goeie sagteware (Marietjie se blog loop daarop), maar dit is 'n lastigheid om dit soomloos met die res van die webwerf te laat inskakel.

Die lekker bonus van Drupal is dat die koppelvlak in meer tale as net Engels beskikbaar is. Ja, reg geraai: ek het die Afrikaanse module gelaai. Wat 'n plesier!