Canterbury Kleingoed
Ons het sedert 2003 ‘n Canterbury Voorskoolse Kleingoed kuiergroepie gehad wat gepoog het om Afrikaanse kinders met ander Afrikaanse kinders in kontak te laat kom. Ons het meestal by ‘n binneshuise speelplek bymekaar gekom, sodat die kinders kon speel terwyl hul ouers oor 'n koppie koffie in Afrikaans klets. ‘n Afrikaanse kinderstorie is gewoonlik ook voorgelees tot vreugde van die kleingoed. Op ‘n stadium het ons selfs geskenkte Afrikaanse boeke uitgeruil wat oor en weer tussen ons geleen is.
Oor die jare het die groep se dinamiek verander. Aanvanklik het ons elke maand saamgekuier, maar meeste van die kinders wat in 2003 saam begin speel het, is al skool toe en ons het een keer elke vakansie byeen gekom. Soms het ons ter wille van die klein voorskolers gedurende weekoggende bymekaargekom en soms op Saterdaemiddae sodat Pa's en werkende ma's dit 'n gesinsekskursie kan maak.
Later jare het Afrikaanse vrouens en hul kinders (waarvan ‘n paar kinders slegs Engels magtig was) saamgekuier. Met tyd het pa's en mense met groot kinders of geen kinders, wat wou saamklets, ook saamgekuier. Oor die jare het heelwat lekker kuiersessies plaasgevind - hetsy dit jong gesinne was wat pas uit Suid-Afrika aangeland het, mense wat al 'n geruime tyd in NZ woon, en ook SA gebore vrouens of mans wat met Kiwis getroud is.
Op hierdie stadium blyk dit egter dat daar so baie Afrikaanse mense in die dorp is, dat mense verkies om in hul eie Afrikaanse vriendegroepe te kuier en daarom word die formele gereelde kuiers nie meer so goed ondersteun nie.
Die saak om ander Afrikaanse mense en hul kinders aan mekaar voor te stel le ons nog na aan die hart, want ons weet dat dit baie vir ons beteken het.
As jy graag mense in die Christchurch-omgewing wil ontmoet, kontak ons gerus met ‘n datum of drie wat jou sal pas vir ‘n kuier - ons sal ‘n paar ander mense kontak dat ons kan plan maak vir ‘n lekker Afrikaanse koffiesessie op die dag wat dit die meeste pas.
‘n Lekker laatoggend-kuierplek, op ‘n weeksoggend gedurende die kwartaal, is Scrummy Mummies in Old Papanui Railway Station building, 1 Restell Str Papanui. Die café het heerlike koffie en ‘n veilige speelarea vir babas en peuters.
Skryf aan afrikaans@swart.co.nz
