Afrikaanse boeke beskikbaar in die Christchurch Stadsbiblioteek
Goeie nuus Christchurchers!
Vanaf 25 Junie 2008, kan Afrikaanse boeke by die Christchurch Sentrale Biblioteek in Gloucester Straat uitgeneem word!
Afrikaans is nou op die eerste vloer in die "Tale van die Wereld" area verteenwoordig tussen tale soos Chinees, Duits, Frans, Koreaans,Nederlands, Japanees en Persies. Die doel hiervan is om vir ons, wat Afrikaans is en hier in Canterbury woon, boeke in ons moedertaal aan te bied.
Ons is baie opgewonde daaroor. Om meer te lees oor die "World Languages Collection Policy", lees gerus http://library.christchurch.org.nz/Policy/FacilitiesCollections/WorldLanguages.pdf
Op hierdie stadium bestaan die versameling uit een rak boeke wat die Christchurch Stadsraad aangekoop het en 'n vyftigtal nuwe boeke wat goedgunstiglik aan ons geskenk is deur die Afrikaanse Klub van Nieu Seeland.
Afrikaanse kinderboeke is op die grondvloer, in die "Centre of the Child" beskikbaar.
Die biblioteek aanvaar donasies van boeke wat in 'n baie goeie toestand is, maar daar is streng kriteria oor die boeke wat hulle in hul versameling opneem. So byvoorbeeld wil hulle nie graag boeke aanvaar wat ouer is as vyf jaar nie. 'n Afrikaanse vriendin het voorgestel dat as mens na 'n besoek aan Suid-Afrika 'n nuwe trefferroman saambring, en jy dit klaar gelees het, jy dit dalk kan skenk aan die biblioteek as jy nie spasie daarvoor het op jou huisboekrak nie. Voor jy dit sou skenk, gesels egter eers met die biblioteek of hulle dit sal kan gebruik. Ons kan jou in kontak bring met die regte mense daar.
Lidmaatskap vir die Christchurch City Libraries is gratis vir inwoners van Christchurch. Maar ons weet van heelwat Afrikaanse lesers in naburige streke, soos in Suid- en Noord-Canterbury, wie op 'n gereelde grondslag in Christchurch kom. Weet dat julle ook welkom is om die boeke te gebruik en uit te neem. As jy buite die stadsgrense woon maar "rates" betaal op 'n stadseiendom kan jy 'n "residents card" kry en gratis boeke uitneem. Die toeslag vir nie-inwoners is $2.50 per boek (wat 'n maand lank uitgeneem kan word).
Kyk vir meer inligting op
http://library.christchurch.org.nz/Services/Membership/
'n Versoek
Die versoek is nou om die versameling na behore te benut. Die biblioteek het aangebied om die versameling aan te vul met tyd, as die boeke benut word. Neem asseblief die boeke uit, en selfs die boeke wat jy dalk nie in Suid Afrika sou uitgeneem het nie, want hoe meer ons lees, hoe groter is die kans om nog boeke te kry.
Die Geskiedenis van die Biblioteekprojek
Gedurende die eerste deel van 2004, het ons verneem dat die Christchurch Biblioteek dit moontlik oorweeg om Afrikaanse leesstof aan te hou - mits daar voldoende lesers is wat van die diens gebruik sal maak. Die webwerf AfrikaansinChristchurch.org.nz het sy ontstaan aan die veldtog te danke. Ons het 'n behoeftebepaling gedoen deur middel van 'n vraelys, op ons webwerf. Na ontvangs van die ingevulde vraelyste, het ons die vraelyste verwerk en die verslag na die biblioteek gestuur vir voorlegging. Later in 2004 het ons antwoord gekry dat die Afrikaanssprekende gemeenskap ongelukkig nie op daardie stadium groot genoeg was om Afrikaanse boeke in die biblioteek te regverdig nie.
Na die 2006 sensus het Afrikaans in Christchurch in 2007 weer 'n versoek voorgele dat die Christchurch Stadsbiblioteek 'n Afrikaanse versameling begin. Die sensus het aangedui dat daar heelwat meer Afrikaanssprekendes in Christchurch woonagtig is as na die vorige sensus. Ons het in November 2007 gehoor dat die biblioteek voorlopig in beginsel toestemming gegee het dat 'n Afrikaanse versameling moontlik in die Sentrale Stadsbiblioteek aangehou kan word maar dat die biblioteek kan nie die besluit bekragtig voordat hulle weet dat voldoende mense die diens gaan benut nie. Hulle bekommernis was dat alhoewel daar voldoende Afrikaanssprekendes hier woonagtig is om 'n Afrikaanse versameling te kan he - dat dat 'n moontlike te klein persentasie van die mense belangstel in Afrikaanse media. Hulle wou graag hoor van mense wat sal baat vind by 'n Afrikaanse versameling.
Ons het die terugvoer op hierdie einste blad gekry en dit vir die biblioteek gegee. Die terugvoerders moes per e-pos reageer en verduidelik hoe hulle voordeel sal trek uit so 'n Afrikaanse versameling "will benefit from this collection" en wat sal voel dat dit hul behoeftes sal bevredig "who feel it would meet their needs". Die mense het ook gese watse tipe media hulle in die biblioteek sou wou sien.
Uiteindelik word die lankverwagte versameling in Junie 2008 bekendgestel.
Baie dankie vir jou hulp
Baie dankie aan almal wat terugvoer gegee het - daar is op daardie terugvoer gewerk om hierdie versameling op die been te bring.
Baie dankie ook vir die biblioteek en die Afrikaanse Klub wat gehelp het om boeke daar te stel vir ons leesplesier.
